88 klawers vir Hoërskool Melkbosstrand

Vrydag, die 26ste Januarie het 88 splinternuwe klawers oor die musiekkamer se drumpel gesweef en hulself tuisgemaak. Hierdie klavier sluit die toekoms oop vir alle aspirerende klavierspelers in Hoërskool Melkbosstrand.

Dié asemrowende vleuelklavier (Kawai GL-10) is sowaar ‘n helpende hand (tog een met ‘n wit handskoen aan) wat ons klavierspelers na die hoogste ster sal lei! Volgens Me M. Fourie is dit dit ‘n voorreg vir enige klavierstudent om onderrig op ‘n vleuel te ontvang. Sy verduidelik dat ‘n leerder beter kan voorberei vir eksterne eksamens. Boonop sê sy:

“’n Goeie instrument se aksie en timbre help beslis vir daardie ekstra tikkie motivering!”

Juf. Fourie met ons nuwe klavier

Juf. Fourie met ons nuwe klavier

Wel, ek kan definitief getuig tot die kwaliteit van die vleuel. Ek was verskriklik geëer om die eerste stukke op die klavier te hoor! Die eerste musiekstuk was “In dreams” uit The Lord of the Rings, gevolg deur ‘n pragtige sonate van Scarlatti, gespeel deur Kyle Abrahams.

Vandat ons skool begin het, was ‘n begroting deur Juffrou Benjamin ingedien vir ‘n klavier. Ongelukkig, sou ons skool nie so vinnig die instrument kon kry nie.  Juffrou Benjamin het dus goedhartiglik haar eie klavier aan die skool geleen.  ‘n Paar jaar later (2016), het die skool se Musiekdepartement egter begin. Dit het soos blits noodsaaklik geword om ‘n professionele klavier te besit.  DIt was noodsaaklik omdat alle eksterne eksamens en eisteddfodau van ‘n professionele vleuel klavier gebruik maak.  Met baie harde werk van die skool en beheerligaam af is die droom van ‘n vleuel gerealiseer.

Juf. Fourie met haar 88 klawers

Melkbostrand se nuwe klawers

‘n Dankie moet ook gaan na alle leerders wat bygedra het tot laasjaar se fondsinsameling (civvie dag en die 88 sleutels fondsinsameling).

Ek het ook twee ekstra vragies gestel:

Aan Kyle Abrahams: Hoe het dit gevoel om die klavier te speel?

“It was bliss.”

Aan Juffrou Fourie: Gaan die vleuel ‘n bynaam kry?

“Ons sal maar sien watter karakter uitgestraal word.”