2018 Mosselbaai-Sporttoer

Op 28 Maart het die o/19 hokkieseuns en -dogters asook o/14 rugbyseuns met groot opgewondenheid vertrek na die jaarlikse AJ-sportweek (ook Mosselbaai-Sporttoer) aangebied deur Hoërskool Punt. Dit was ‘n lang en uitputtende rit, maar definitief die moeite werd!

Almal het by die ATKV-oord in Hartenbos gebly saam met ‘n paar ander skole waar spelers baie nuwe mense leer ken het van regoor die land. Spelers moes elke oggend vroeg opstaan om betyds te wees vir ontbyt in die eetsaal waar hulle bederf is met ‘n heerlike bord kos en lekker koffie en later die aand sommer nagereg ook! Daarna het  almal met groot opgewondenheid na die Van Riebeeck sportgronde verkeer om die vol programme aan te pak.

O/14 rugbyseuns op die veld

O/14 rugbyseuns op die veld

Die eerste dag het almal papnat gereën, maar dit het glad nie ons Melkies gestop nie. Ons spanne het steeds hul beste gegee en die ander spanne met Melkie-gees oorweldig. Die tweede en derde dag was die weer baie beter. Ons hokkieseuns en -dogters was opgewonde vir die professionele afrigting wat hulle ontvang het. Die afrigters het ons spelers baie geleer van die sport en hulle het spesifiek gefokus op balvaardighede. Daar was ook ‘n fiksheidstoets (die ou bekende bleeptoets) waarna almal natuurlik opgesien het. Na die afrigting is daar weer wedstryde gespeel. Almal was doodmoeg! Gelukkig was daar ‘n sokkie dié aand om na uit te sien! Die Melkies het almal saam gebraai en ‘n pret aand  met musiek en dans geniet.

Melkies Hokkie seëvier!

Melkies Hokkie seëvier!

Sondagoggend is spelers na HS Punt se paasdiens. Daarna het die onderwysers ‘n bietjie bederf met ‘n heerlike rusdag, waar almal na die Hartenbos Waterpark geneem is. Spelers het put-put gespeel, lekker geswem en pizza geëet. Maandag was die laaste dag. Die sakke is reeds vroegoggend op die bussie gelaai, sodat ons Melkies dadelik huis toe kan vertrek na hul wedstryde. Daar is ‘n vinnige ontbyt geniet en dadelik na die sportvelde toe gejaag vir die laaste wedstryde. Die hokkiemeisies het die vyfde plek uit 14 skole, en die hokkieseuns ‘n vyfde plek uit nege skole behaal.

Die Melkies het met trots weer teruggekeer huis toe. Dit was n baie suksesvolle toer, waar daar baie geleer is en spelers baie pret gehad het. Baie dankie aan al die onderwysers en ouers wat die toer help moontlik maak het!