Babba… Ons mes-in-die-maag Toneelstuk van 2019

Babba, geskryf deur Stephanie Gericke. Hierdie harde realiteitsdramastuk ruk jou terug aarde toe met die passievolle akteurs op die verhoog. Reg aan die begin van hierdie optrede sit jy op die punt van jou stoel in afwagting vir wat volgende gaan gebeur. Drankmisbruik, vroue- en kindermishandeling, onmenslike toestande waarin mense hulsef bevind, sowel as pyn en smart word uitgebeeld in musiek en drama soos nog nooit tevore op die planke by MHS gesien nie.

Die optrede word goed deur al ons ouers, onderwysers en lojale ondersteuners by die skool ontvang en ook op ons toer na Montagu. Ons ongelooflike tegniese hulpmiddels dra by tot die reusesukses van “Babba”.

Die dramagroep van HMS met hul toneelstuk: Babba

Uitslae vanaf die Kunstekaap:

Hierdie jaar stap Hoërskool Melkbosstrand as een van die die Top 3 uit 70 skole met hul toneelstuk BABBA weg. Andrea Swarts spog met die titel as Beste Aktrise. Die Beste ondersteunende aktrise gaan aan Audrey Mbala. Die spesiale Beoordelaarstrofee gaan aan Gabriella de Lange wat in haar matriekjaar is. MHS Drama neem ook die trofee vir Beste Storielyn huis toe en pak ons die Beste Regisseurstoekenning met Me. Gericke as hoofkokkedoor by die Kunstekaap in.

Babba by die Kunstekaap

Uitslae vanaf Montagu Tienertoneelfees:

By die Montagu Kunstefees wen MHS dubbelgoud vir die verhoogproduksie. Weereens verower ons die Beste Regisseur-toekenning en Andrea Swarts word as Beste Aktrise bekroon. Tristan Pretorius word hier as Beste Akteur aangewys, terwyl die Beste Ondersteunende Akteur aan Cullen Burke in graad 8 gaan. Verder is die Beste Gebruik van Tegniese Hulpmiddels, Beste Nuutgeskrewe Teks en Beste Regisseur maar net nog ‘n klompie toekennings waarmee MHS wegstap. In totaal ontvang ons nege dubbel-goud, nege Goud- en twee Silwer-toekennings vir die Babba-toneelstuk.

Thespians in aksie

Ses maande se harde werk, toewyding, trane en deursettingsvermoë word uiteindelik goed beloon. Die onderwysers en al die thespians stap breëbors met hul erkennings weg. 2020 se beplanning is goed op dreef en die verwagtinge is nou aansienlik hoër! Hou hierdie spannetjie dop!