Graad 8-kamp van 2018

DIe nuwe graad 8’s se skoolkamp aan die begin van die jaar was ‘n reuse sukses. Ons gee die leser ‘n blik van die graad 8-kamp uit die oë van twee graad aggies – Deanné en Danté. Dit was ʼn doodnormale skooldag, maar om en by 14:30 het die moeilikheid begin. Dit was tyd vir die graad 8-kamp.

Waar begin ‘n mens? Kom ons begin by die begin. Almal pak verwoed hul sakke uit en so word goedere verloor. Niemand maak kop of stert uit van wat regtig aangaan nie en ‘n klompie van die graad 8-seuns hardloop soos afkophoenders rond. Jy kan duidelik sien hoe die matrieks elke oomblik hiervan geniet.

Ons word in groepe ingedeel, gereed vir die boeresport. Groep een tot ses stap na die hindernisbaan waar daar verskillende aktiwiteite soos baksteenloop, eiergooi, hekkies, “karre soek in sand,” en toutrek is. Groep sewe tot twaalf sing die skoollied herhaaldelik uit volle bors!

Foto deur Hoërskool Melkbosstrand Fotografieklub

Graad 8-kamp doen spanbou. Foto’s deur Hoërskool Melkbosstrand Fotografieklub.

Hoe later hoe kwater en die honger mae begin roep. Tyd vir die legendariese POTJIEKOSKOMPETISIE! Oriëntasie is nou in volle sterkte! Die kreet “ek is ʼn plankie, het jy vir my ʼn takie?” word om elke hoek en draai deur verboureerde graad 8’s uitgeroep. Groep vier moes die Makarena doen terwyl groep drie Walvis-geluide naboots. Vele ander takies is uitgevoer soos om bome te kielie en om klippe weer gelukkig te maak. Dit was skreeusnaaks.

Om 22:00 is dit tyd vir “Melkies got talent!” en almal moet items doen soos sing, dans en drama opvoer. Die wenners van die aand was groep ag. Veels geluk groep ag!

Tot en met 24:00 word die skoollied deurlopend gesing. Uiteindelik raak almal rustig en gaan slap, net om weer wakker gemaak te word deur die matrieks om hierdie keer n nuwe liedjie te oefen. ʼn Uur of wat later, is ons almal weer vas aan die slaap.

Graad 8's as 'n groep

Graad 8-kamp as ‘n groep in die saal.

Klokslag om 06:00 is almal weereens wakker gemaak om weerdie liedjie te oefen -van voor af. Welverdiende ontbyt bestaan uit Kellogg’s, muffins en koffie. Teen 14:00 is dit tyd vir die “Amazing Race”. Leidrade word gegee om matrieks te identifiseer wat iewers in die skool skuil, almal hol in verskillende rigtings. Dit is eindelik 15:00 en die graad 8’s tree aan vir die groot oomblik…

“Slaan my naam met ʼn plankie” word vir die ouers gesing voordat dié prettige geleentheid (verleentheid) verdaag word.

Wat ‘n belewenis vir ons as graad 8-leerders by Hoërskool Melkbosstrand! Dankie aan al die matrieks, VRL en onderwysers wat hierdie kamp moontlik gemaak het.