Hulle lyk `n bietjie groen…

Na middernag word ‘n klomp jonges sonder veel protes, uit hul beddens gejaag. Hulle bondel die donker, onheilspellendheid van die middernagtelike skoolsaal binne waar hulle struikelend hul pad uit, moet vind. Grypende hande keer hulle om elke draai… Watter nagmerrie is hierdie? Wie durf om die liewe 13-14 jariges so onvergeeflik te teister?

Natuurlik is dit Melkbosstrand Hoërskool wat besig is met hulle graad 8 kamp. Vanuit my oogpunt is dít, die eerste stappie van ons Melkies om in Steri Stumpies¹ te verander Die beginpunt van HMS se getroue belofte aan die publiek: Hier bou ons goed afgeronde leerders wat streef na uitnemendheid.

Die kamp is altyd die toppunt van die oriëntasieweek. As jy klaarblyklik tussen bokstertjie/middelpaadjie haarstyle, bababippies en ‘n prettige kamp ’n gunsteling moet kies, wen die kamp handjies gevou.

Volgens ons hoofseun, Michael Botha, is die kamp belangrik omdat dit ‘n inleidingskamp is waar die hoofdoel is om die leerders soveel as moontlik deel van die skool te maak. Hulle word deeglik oor die skool geleer en aangemoedig om deel te neem.

“Ons wil wys,” sê Botha,“As jy in sport goed is, akademies goed is of selfs kultureel goed is kan jy deel wees van die Melkies familie.”

Hy vertel ook dat daar op die kamp gewys word dat dit lekker hier is, soos hoe die potjiekoskompetisie opwinding wek sowel as spangees bou tussen die aggies.

Vrydag,13 Januarie, hang ek na skool rond om dié met die natste ore uit te kyk. Meeste het vergader in klein groepies rondom die skool in afwagting vir Die Begin. Uit nuuskierigheid het ek vir een van die graad 8’s, Kara von Molendorff, ‘n bietjie uitgevra oor hoe sy  voel omtrent MHS en wat sy weet van die kamp. Ek was opgewonde ingelig dat sy van die skool hou en dat sy die VRL en onnies vriendelik vind sover. Oor wat sou gebeur tydens die kamp het die aggies blykbaar slegs geweet van die potjiekoskompetisie, nie van die doolhof of die pretdraf nie. Daardie twee sou verrassings bly…

Omtrent kwart oor drie is die graad 8’s in die saal ingeroep. Hulle het weggespring met hul ontgroeningsdans op die liedjie ‘Wings’ deur Little Mix. Hierdie sal ongelukkig nie voor die hele skool uitegvoer word nie. Na die dans was daar ‘n breek en na die breek… POTJIEKOMPETISIE!

 

This slideshow requires JavaScript.

Kommentaar omtrent hierdie kompetisie het varieer vanaf “Dit was ongelooflik pret!” tot “Maar die kos, eina…”. Daar was omgeveer agt groepe en elk het hul wapens gekry- slaggereed vir ‘n kosoorlog. Ongelukkig het ek gehoor dat hierdie jaar se lot dalk nie die wêreld se beste toekomstige sjefs gaan wees nie, maar my graad 8 potjie, was nie veel beter nie!

Ete het verbygegaan en ‘n storm van aktiwiteit het gevolg soos die kinders moes skoonmaak. Daarna is die aggies bed toe gestuur. Dit was om so 22:00 se kant, maar teen watter tyd hulle uiteindelik gaan slaap het, wissel grootliks. Die aggies was snoesig in hul slaapsakke – terwyl die VRL suutjies te werk gegaan het om ‘n bangmaak-doolhof te bou wat selfs die hardebaarde in matriek op hol sou gehad het.

Daar is steeds geen Gr. 8 wat op die rekord wou erken dat hy/sy geskree het nie.

Na ‘n lieflike aand van slaap was die aggies om 6h00 wakker gemaak om fiksheid te doen. Ontbyt was geëet, grappies was gemaak, sakke was gepak. Die graad ags het weer hul dans geoefen en aangedui aan watter skoolaktiwiteite hulle sou deelneem.

Hulle is hierna in groepe verdeel. Tot almal se verligting het dit beteken dat ‘n kleur-pretdraf sou plaasvind – iets wat nie vervelig óf harde werk sou wees nie.

Groentjies moes twee keer om al drie velde hardloop terwyl hulle mekaar met poeierverf gegooi het en met water kon bydam. Boonop moes hulle intussen ‘n legkaart bou, op ‘n waterbaan afgly, onderdeur toue kruip én op balke balanseer.

Klink soos pret, of hoe?

Indien die ontgroeningskamp die begin van ontgroening simboliseer, simboliseer die baadjieseremonie die einde. 30 Januarie tydens saal is die graad aggies(nie-meer-groenes) elk op sy of haar beurt hul baadjies gegee. Die trotse jonges het voor ouers, onderwysers en al die ander Melkies in die saal gestaan en hul inhuldiging afgesluit met hierdie belofte:

Wanneer ek hierdie baadjie dra, beloof ek:
When I wear this blazer I promise:
Om te sorg dat my voorkoms altyd netjies is;
to be responsible in what I say and what I do;
om oral met selfdissipline op te tree;
to be an ambassador for my school;
om alle mense altyd met respek te behandel;
to do my schoolwork with diligence
and above everything else
to be a proud Melkbosser
Ad Exellentium

¹Vanuit “Melkie Magic 5”, 2016

 

  1 comment for “Hulle lyk `n bietjie groen…

  1. Adri Vivier
    28/02/2017 at 9:38 AM

    Uitstekende artikel, propvol GROENtjiekamp doen en late! Heerlik om al lesende te deel in die goeie energie van al die deelnemers!

Share your thoughts!