Mosselbaai Toer 2019

Morestond dra goud in die mond is ‘n idioom waarvan die Melkies se trotse sport-spanne kan getuig. Tydens die eerste week van die Maart vakansie het die o/19 hokkieseuns en –dogters, o/19 netbal dogters, o/14 rugbyseuns en hulle afrigters Melkies verteenwoordig by Hoërskool Punt se jaarlikse AJ Sportweek, oftewel die Mosselbaai toer van 2019.

Van baie vroeg opstaan om betyds te wees vir ontbyt, tot swem in die see terwyl die warm son op die horison baljaar, het ons spanne hulself gate uit geniet. Na ‘n lang, besige dag is n heerlike bord kos, ‘n koue stort en ‘n warm bed hemel in Mosselbaai. Ons leerders het egter nie net ‘n lekker bederf toer gehad by die see nie! Almal het hard gewerk om die toer ten volle te benut.

Ons spanne het professionele afrigting gekry by huidige sportsterre en bekende afrigters. Die mate waarmee die spelers na elke toer groei is besonders. Hulle het baie nuwe mense op die toer ontmoet en ook nuwe vaardighede aangeleer wat hulle spel tydens wedstryde gaan verbeter. Na hierdie klip-kou-oefensessies het elke span nog wedstryde teen ander skole ook aangedurf. Hierdie wedstryde het vir ons leerders goeie ondervinding gebied en hulle goed voorberei vir die seisoen wat voorlê. Ons spelers het hard geoefen en gaan definitief die vrugte daarvan pluk.

Die uitslae vir die toer-wedstryde loop as volg:

Hokkie Dogters o/19: 7de uit 16 skole

Hokkie Seuns o/19: 6de uit 6 skole

Netbal Dogters o/19: 11de uit 25 skole

Rugby Seuns o/14 : wen alle wedstryde

Ons lig ons hoedens vir die onderwysers/afrigters wat saam met hierdie spul leerders die uitdaging van ‘n agt uur lange busrit, baie besige daaglikse skedule, swemsessies en meer as 50 leerders tussen deur alles baie mooi opgepas en beheer het. Dankie!

Dit was n baie suksesvolle toer en ons Melkies het trots met waaiende stert in die lug, teruggekeer huis toe.