Ons praat met Sean van Loggerenberg – ‘n man op sy eie vlak

Sean is ‘n uitblinker in al drie afdelings: sport, akademie en kultuur. In sport het hy WP-kleure in skaak en hy neem in Desember vir die tiende keer aan die SAJCC (South African Junior Chess Championships) deel. Hy speel vir die o.18-seunshokkiespan alhoewel hy net 16 is.

In akademie het hy al vier keer WP-kleure vir Wiskunde behaal en hy is in die senior span (Gr. 10-12). Hy het ook aan bekende wiskunde kompetisies deelgeneem soos SAMCT(South African Maths Team Competition).

Op kultuurgebied het hy Noodhulp vlak 3 voltooi en 50 ure se diens gebied. Daarvoor ontvang hy halferekleure. Ek het aan Sean ‘n paar vrae gevra om uit te vind wat hy doen om so goed te vaar.

Sean behaal WP kleure in Wiskunde

Sean behaal WP kleure in Wiskunde

Ons wil die persoon agter die prestasies beter te leer ken:

1.         Hoe kry jy dit reg om jou doelwitte te bereik?
Vandat ek jonk was het ek uitgeblink in Wiskunde en kon ek my suster (wat vyf jaar ouer as ek is) se Wiskunde doen voordat ek skool toe gegaan het. Ek gaan deur ou vraestelle en speel soms skaak voordat ek aan wedstryde of kompetisies deelneem.

2.         Hoe kry jy dit reg om tyd vir alles te maak en jou besige lewe te balanseer?
Ek het nie ‘n idee nie! Ek vat maar alles soos dit kom.

3.         Wat is ‘n interessante feit van jouself waarvan min mense weet?
Die dokter het voorspel dat ek nie langer as drie dae sal lewe nie, maar deur ‘n wonderwerk was al die foute wat ek veronderstel was om te hê, reggestel behalwe ‘n foutiewe hart. Ek het op een jaar oud ‘n operasie gekry en dit was suksesvol. Ek kan wel nie harde houe (soos met rugby) op my borskas kry nie – my hart kan dalk gaan staan.

Sean by SAJCC WP skaak

Sean by SAJCC WP skaak

4.         Is daar enige snaakse dinge wat al met jou gebeur het?
Ek het twee keer in twee weke ‘n hokkiebal in my gesig gekry verlede kwartaal. Die eerste keer het my tand gebreek en my lip bietjie oopgebars. Toe ‘n week later is ek tydens ‘n wedstryd weer op dieselfde plek getref.

5.         Wat doen jy in jou vrye tyd?
Dink te veel, maar andersins is ek soos enige ander tiener op my foon: luister musiek, speel games, kyk youtube en praat met vriende. En ek is mal daaroor om met my hond Vincent tyd te spandeer. Hys ‘n pitbul en hy doen alles wat ek vir hom vra.

6.         Watter raad sal jy vir ander kinders gee om goeie prestasies te behaal?
Doen eerste wat jy moet en later wat jy wil. Almal is uniek, ek kan byvoorbeeld nie musiekmaak of speel of sing of dans of vinnig hardloop nie. Fokus op dit waarmee jy goed is en werk daaraan selfs al is jy nie lus nie.

Skaak en wiskunde is bietjie anders as ander aktiwiteite, want jy kan nie eintlik ooit heeltemal voorbereid wees daarvoor nie. Daar is altyd iets wat jy nog nooit teëgekom het nie en dan moet jy hele brein aanpas om die ding te begryp.