Sarel Sluim Toneelstuk van 2018 oortref verwagtinge

Hierdie jaar het die drama akteurs hard gewerk en tot laataand geoefen vir die groot aande wat voorgelê het. Sarel Sluim se stuk het vir twee aande by die skool opgetree (14 en 15 Augustus). Die titel van die stuk is “Die skuld van Sarel Sluim”. Die gehoor het die kleurvolle vertoning vreeslik geniet.

Waaroor gaan die toneelstuk?

Die basiese storielyn handel oor die karakter Papsie, die gesope pa gespeel deur Lienkie Neethling, wat vir Sarel Sluim geld skuld. Tiffany Erasmus het die rol van Sarel Sluim gespeel Sarel Sluim wil met alle mag die geld terughê en Papsie se dogter, Popsie gespeel deur Shené Stassen, is in die knyp. Elke verhaal benodig ‘n held. In hierdie toneelstuk is dit die sjarmante Hendrick, gespeel deur ons eie akteur van formaat Tristan Pretorius, wat vir ou Popsie uit die slegte situasie en uit die kloue van Sarel Sluim kom red. Tristan is ook na die afloop van hierdie stuk gekies om in ‘n dokumentêr te speel!

Sarel Sluim se plakkaat

Sarel Sluim se plakkaat

Resultate van Sarel Sluim:

Ons akteurs het die ernstige kwessie van skuld geneem en ‘n snaakse kinkel in die verhaallyn ingeskryf wat jou terselfdertyd laat huil en lag. Hierdie dramagroep het Montagu toe getoer die naweek van 23 tot 25 Augustus en die toneelstuk het ‘n silwertoekenning gekry wat ‘n goeie prestasie is. Die ensemble asook Tristan, Lienkie, Carla; en Shené het almal goud gekry en die ander akteurs het silwer gekry.

Hoërskool Melkbosstrand se kostuums en dekor het ook goud en dubbel goud gekry. Na lang nagte van oefen en baie harde werk was alles op die ou einde die moeite werd om die skool se naam so hoog te hou met sulke goeie prestasies. Welgedaan aan die dramagroep!

Die 2018 Dramagroep

Die 2018 Dramagroep vir Sarel Sluim

Ons sê ook baie dankie aan al die onderwysers betrokke by die Drama hierdie jaar en veral vir juffrou van Eeden wat weereens die groep bymekaar gekry het. Dankie ook aan elke ondersteuner wat die toneelstuk kom kyk het en elke ouer wat bygedra het tot hierdie groep se groot sukses hierdie jaar!