Wonderlike Wintersport Interskole teen Milnerton 2019

Die week het afgeskop met ‘n dag vol gees by Hoërskool Melkbosstrand wat tot die lang verwagte interskole toernooi teen Milnerton op 20 Julie 2019 opgebou het.

Interskole Geesweek:

Op Maandag, 15 Julie 2019, het die opwindende week begin deur ‘n samekoms van die skool om die volgende dae te bespreek asook gees te vang in die saal. Dinsdag was ons spesiale yoga dag! ‘n Pouse is gebruik om musiek te geniet en daardie lywe te strek met ‘n paar yoga-bewegings.

Woensdag is elkeen se ware kleure bekend gemaak aan die skool deur met gekleurde sokkies en pantoffels skool toe te kom – pantoffeldag! Leerders is ook gevra om ou skoene skool toe te neem wat aan liefdadigheidsorganisasies geskenk is.

Dag 4 van Geesweek was ons “Steri-Stumpie” kompetisie.  Twee leerders van elke graad en twee onderwysers was genomineer om vyf sjokolade “Steri-Stumpies” elk af te sluk.  Die kompeterende spanne moes kyk wie die vinnigste al die drankies kon opdrink. Mnr. Waldeck en Mnr. Swart het die uitdaging maklik laat lyk deur die opposisie in die stof agter te laat.  Sommige leerders stry egter dat hulle natuurlik meer tyd gehad het om te oefen voor die kompetisie.


Interskole 2019: Melkbosstrand vs Milnerton

D Day:

Al die opwinding van die interskole het almal beslis laat inspireer om hul beste te doen om daardie wedstryde te wen, wat beteken het dat ons vir oulaas gees kon vang met ons “Big Brag”!  Die skool was weereens as ‘n eenheid in die saal, waar almal hulself los kon ruk met die liedjies wat ons dirigente beplan het vir die groot dag. Die sportspanne wat ons skool verteenwoordig het by die interskole toernooi was aan ons bekend gemaak.

Na ‘n opwindende week het Saterdag uiteindelik aangebreek.  Leerders was vroeg uit die vere en het reeds om 07:00 al by Hoërskool Milnerton begin opdaag. Die geleentheid om Hoërskool Melkbosstrand te verteenwoordig, was een van die beste ervarings wat ek moontlik kon beleef.  Elke span het hulle harte uitgespeel op die sportsgronde en vir almal bewys hoe hard hulle werklik geoefen het vir dié dag.

Uitslae:

Die eerstespan hokkiemeisies moes ongelukkig tevrede wees met ‘n loesing van 13-0 en so-ook ons eerstespan hokkie seuns wat 8-0 die spit moes afbyt.  Ons eerste rugbyspan het met ‘n telling van 36-24 tweede geëindig.  Daar kan wel geluk gesê word aan ons eerste netbalspan wat 23-17 gewen het!

Interskole uitslae

Ons het dalk nie hierdie keer die interskole gewen nie, maar ons het beslis gesien waar ons kon verbeter en almal wat teenwoordig was, het ‘n waardevolle les geleer.  Hoërskool Melkbosstrand mag dalk onderskat word, maar niemand kan stry oor die jong talent wat uitblink by ons skool nie.